Die verhaal van die Babbelskoop - ScopeX

Go to content

Main menu

Die verhaal van die Babbelskoop

Telescope Making > ATM Diaries 1


Die verhaal van die Babbelskoop deur Attie Meintjies - April 2005


Voorwoord


Eendag was daar ‘n seuntjie wat op ‘n baie koue Julie aand met ‘n klein teleskoop self Saturnus kon sien na aande se waarneming. Dit was omtrent Julie 1956 op die plaas Blydschap in die distrik Reitz waar hy grootgeword het.

Die ster-stof het in sy hart en oë gaan nesmaak. Hy kon dit nooit vergeet nie en het maar altyd met belangstelling na die sterre  gekyk met wat ook al in sy hand kon kom. Hy het baie jare gelede, in  vroeë 60’s, in ‘n Amerikaanse tydskrif, Populer Mechanicks, gesien dat ‘n mens ‘n teleskoop van ‘n skeerspieël kon maak. Hy het dit nooit vergeet nie.

“Sterre en Planete” is sy gunsteling program op die Radio, en toe hy hoor van die Scopex Uitstalling op 10 Mei 2003, was hy daar en so het “Babbelskoop”begin. (Hy het sy hele lewe, en met die maak van die teleskoop baie oor die onderwerp gebabbel!)

Attie Meintjes

“Tweespruit”
Posbus 204
Reitz. 9810
Tel: 058 863 1726
Sel: 082 945 7653


Teleskoop


10 Mei 2003 besoek die Amateur Sterrekunde uitstalling by die Oorlog Museum in Johannesburg. Ontmoet vir Vincent Nettmann. Besluit om ook ‘n teleskoop te bou. Begin deur van die internet inligting te trek. Bestel ook ‘n boek van die Johannesburg planetarium oor die bou van teleskope. Koop die boek “Ontsluier die Heelal” deur J.E.van Zyl.

7 Junie 2003.  Besoek weer die ASSA klub by die Parktown Seuns Hoërskool, ontvang die glasskywe. Kry kort opleiding en ook notas om die glas te slyp. Ek en Otilia het gegaan; ook Schalk en Nicolai. ‘n Vriendin van Otilia, Surita het ook saamgegaan. Otilia en ek gaan saam twee teleskope maak. Koste van my glas en die skuurpoeier R400-00.

9 Junie 2003. Begin om die gereedskap reg te kry. Maak twee skywe van hout vir die glas om op vas te lê. Koop ‘n houtstafie R5. Skuur die houtskywe gelyk.R3.50.

12 Junie 2003. Gister die randsnit (bevel) geslyp. Gebruik ‘n bandskuurmasjien, maar dit is nie goed nie, die glas word warm en dit ruk klein stukkies glas uit. Daar is net een manier, en dis die regte een!!!
Vandag alles gereed gekry. Begin om die glas gelyk te slyp, maar die agterkante van die glas is ongelyk en die glas dans rond en lê nie stil nie, sny ‘n stukkie van verpakkingsplastiek, (die met die blasies in), om onder die glas te sit dis beter, maar nog nie reg nie.
In my botteltjie met no 80 poeier is daar ‘n pilsponsie, my bottel is eintlik net half!. Die glas is amper gelyk. Het 4 ure geskuur. Ek sien hier kom ‘n ding. Dit gaan lank vat!
‘n Oliedrom sal die regte werkbank wees. Dis maar morsig en mens moet die afloop water sommer in die drom laat loop. ‘n Tuinslang om die spul mee af te spoel sal net die ding wees.
Koop ‘n stukkie rubbermat om onder die glas te sit as ek slyp. R15-00

28 Junie  Maak die randsnitte weer groter. Die poeier gaan nie die eerste deel klaar maak nie.

5 Julie Gaan aan met slyp tot die poeier klaar is. Die randsnit het ek met ‘n messlypsteentjie gedoen. Dit werk goed, gebruik net soos met slyp baie water. Het ook die week die deksels vir die voor en agterkant van die buis uit Maranti hout gedraai. Sal seker nie veel verder kan gaan voor my arm weer bruikbaar is nie. Skouer operasie op 7 Julie .

23 Augustus.  Het vandag vir die eerste maal weer kon slyp. Intussen het ek dele van die teleskoop staander gemaak. Mars is nou baie naby aan die aarde , die naaste wat dit vir eeue sal wees en is baie helder in die aande. Het ook die agterkant van die spieël laat draai uit staal by Gawie van Zyl.

20 September. Ry vroeg oggend en gaan kuier by Schalk hulle. Vincent meet die spieël en dit is op 0.8 mm. , maar hy sê dat die snitkant gevaarlik smal is en dat ek dit breër moet maak. Ek doen dit en is dadelik weer terug op 0.6 mm. Ek slyp die middag en eindig darem op 0.69. Verder ontmoet ek daar ander ouens wat ook slyp. Die “Sjinees” is ‘n baie entoesiastiese man en hy wys my die oogstukke wat hulle gemaak het.

27 September. Woensdag was ‘n vakansiedag en het toe ook geslyp, maar die waterpomp in die veld het gebreek en dit het eers baie van my tyd opgeneem. Kon darem vorder tot by 0.95 mm. Johan Jacobsz het ook hier by ons kom eet. Vandag het ek kalwers gekastreer en ook die rammetjies wat ek nie wil hou nie. Slyp so ‘n bietjie en kom darem tot op 1.21 mm. Otilia kuier ook die naweek hier en sy sê dat haar spieël nog nie glad is nie, haar tyd is min om te slyp.

29 September. Boor vanaand die drie gaatjies aan die agterkant van die spieël se rugsteun en sny dit ook draad. Die boor is 5 mm en die boutjies is 6 mm.

29 November 2003.
Die spieël is op die verlangde diepte! Dit is nou 1,38 mm en dit is naby genoeg aan die nuwe F8 diepte van 1,49 mm. Kry bitter min tyd om aan die teleskoop te werk, daar is net naweke te veel te doen om die plaas reg te hou. Dit was bitter droog, soos baie lank laas, maar ons het darem lekker reen gehad. Ons het 126 mm vir die maand gehad. Van volgende Saterdag af sal ek kan begin om met die fyner skuurmiddels te werk.

14 Maart 2004!!!     Het weer die berekeninge oorgedoen en besluit dat F8 nie is, soos ek dit bereken het nie. Die nuwe diepte is:1,51 want die deursnee van die spieël is nie 200 mm nie. Die spieël is nou presies op diepte en ek is al besig om die 240 poeier te gebruik. Ek sien dat die teleskoop te lank gaan wees vir my kar as hy klaar is. Dit sal ‘n jammerte wees. Ek het ook vir my ‘n dikte meter gekoop wat elektronies is. Ek het te veel gesukkel met die los meetplaatjies . Die ander diktemeter is nie fyn genoeg om te meet nie. Ons het die naweek lekker reen gehad en die ooie is aan die lam. Die somer was maar swaar, dit het net nooit goed gereen dat die veld kon uitgroei nie.

10 April 2004.   Saterdag. Vandag lekker geslyp. Eers vanoggend die drukpompie herstel wat stukkend was, kon eers namiddag begin slyp. Klaar met die 240 en het oom begin met die 320. Het die spieël se rand ‘n slegte stamp gegee, maar dis darem nie by die kantsnit verby nie!! Sal baie versigtig moet wees. Die glas is geneig om op mekaar vas te byt en dan raak dit gevaarlik om die twee van mekaar te skei.

24 April 2004 Die  ooie lam goed. Die groenvoer is mooi, kan dalk die winter lekker lammers grootmaak.
Maak vandag met die 300 klaar en gaan aan met die 400. Met die laaste stoot sien ek daar is, fyn krapmerk oor die spieël!! Dis om van te huil, sal moet terug gaan na die 320. Die 400 het dalk ‘n kristal in, sal dit moet vermy. Bêre alles en maak eers deeglik skoon, was die drom en alles met die tuinslang.

1 Mei 2004. Begin weer slyp, dit is jammer, want ek was al klaar met die 320, maar hoe anders. Slyp weer alles tot dit gelyk is en begin toe weer met die 500. Ek is te bang dat die 400 besoedel is.

21 Mei 2004 Vincent Netman en drie ander van die ASSA van Johannesburg besoek my die naweek. Ons kyk sterre! Hulle is gaande oor die kwaliteit van die lugruim hier by ons. Die ander was: Karen Breytenbach,(sy praat Engels), Barend Botha, (die Stille), en Ettienne van Zyl. Almal van Johannesburg. Hulle het met 3 teleskope gekom. Vincent se eie, The “Other People’s Telescope” en Etienne se eie een. Ek het vir my verkyker ‘n vashouer gemaak en op die ou driepoot van  die bukswaterpas wat ek self gemaak het. Kan self nie glo dat dit so goed werk nie! Elna Fivaz het van haar klaskinders genooi om te kom kyk en hier was toe op die end 28 kinders en ‘n paar grootmense ook. Dit lyk of hulle dit baie geniet het.
Die skape het klaar gelam so 3 weke terug, maar hulle loop nog op die veld, dit bly warm en die veld hou hulle nog aan die gang. Piet het al daar by hom rond begin mielies stroop.
Ek het verlede naweek gewerk en het daar by die rose geslaap,want ek moes die ketel oppas. Donderdag die 20ste was ‘n vakansie dag vir ons want dit was Hemelvaart. Jan het my voor stok gekry en aan my dit duidelik gemaak dat ek nie meer my werk goed genoeg doen nie. Hy dink dat ek maar moet bedank en aan hom ‘n datum gee waarop ek sal ophou werk. Wel dis nogal ‘n bottel pille om te sluk. Wel die Here sal weer vir my ‘n ander deur oop maak.

29 Mei 2004. Uiteindelik darem die krapmerk uit gekry. Die 500 poeier is amper op. Ek is bly dat ek al so ver gekom het. Ons gaan 1 Junie op vakansie, en ek wil graag die spieël saamvat en kyk of ek dit nie in my verlof tyd kan klaar kry nie.
Die regterskouer gee my opdraende, ek sal maar moet laat opereer so gou as kan.

11 Augustus 2004.  Die regter skouer operasie is verby, maar ek kan nog nie veel doen nie. Gelukkig min pyn. Begin vandag weer skuur. Ek is klaar met die 600 en dit lyk goed. Ek kon darem op vakansie by Tshipise so ‘n bietjie skuur. As dit so aangaan sal ek darem een of ander tyd klaar kry. Baie lekker gewees by Tshipise. Ek het vandag met die 800 begin en dit gaan vinnig. Met die laaste was van die glas, voordat ek met 1000 sou begin, kry ek weer ‘n ., dis ‘n grote!.
“The other peoples telescope”

9 Oktober 2004.  Het die hele September maand weer by Dancor Rose gaan werk. Ek is nou Vriendelik “vrywillig” afgetree. Vreemde ervaring, bly om by die huis te wees, maar ook skrikkerig vir wat die toekoms kan inhou. Otilia het vir my by Vincent weer skuurpoeier gekry en ek het maar weer van middag by 600 begin om die krap uit te skuur. Dit is eintlik nie ‘n krap nie, maar ‘n sloot, die kristal kon dalk so groot as ‘n gholfbal gewees het!!!!
Ergste droogte wat ek nog op Tweespruit beleef het vandat ek boer. My beeste is maerder as die wat in Petsana loop.! Ons bid elke dag en hoop en vertrou dat die HERE ons gebede sal verhoor.
Wil net aanteken van my metode van meet op die Sagitta van die spieël. Ek het ‘n ronde staal plaat laat sny op die draaibank waarop ek die spieël meet. In die middel is daar ‘n gaatjie in die plaat, met die elektroniese Caliper meet ek dan drie keer van die gladde kant af en drie keer van die ander kant af, die gemiddelde is dan die diepte van die Sagitta (Die diepte van die kromming gemeet oor die middel van die glas.) Met die oog kan mens nie sien dat die staal krom getrek het nie, maar met meting het ek vasgestel dat die verskil 0.07 mm is, aansienlik as mens so presies moet werk met die ware diepte van die kromming. My spieël se diepte moet 1.52 mm wees om die regte fokuslengte te hê.
Net hier ‘n dringende waarskuwing: Maak baie seker wanneer daar van graad van poeier verander word dat alles deeglik gewas is en daar geen manier is dat daar van die ander ou poeier op die glas kom nie.

Slyp die glas op 'n oliedrom.

10 November 2004. Dit is die ergste droogte wat ek nog ooit beleef het. Oral begin die boorgate opdroog! Swaer Chris Boshoff het min water, Nico Jacobsz se water het ook opgedroog. Hy ry water aan van die rivier af om sy voerkraal water te gee. My veld het op die 4de Nov. aan die brand geraak by die Eskom lyn en omtrent 50% van my veld het afgebrand, dit is ‘n krisis. Normaalweg sal ons teen die tyd elke jaar al die eerste voer sny; maar ek het nog nie eers stikstof uitgestrooi nie. Nog nooit het ek dit so droog gesien nie. Maar nou-ja, die HERE het nog altyd ons versorg.

Die buis het ek begin glad skuur, maar ek sien dat die plastiekpyp maklik krap en ek sal daar baie versigtig moet wees. Chris, seun, het ‘n ou verkyker vir my in die hande gekry en daarvan sal ek die opspoor teleskoop kan maak. Hy is ‘n bietjie sterk, 10 X 50, en sy hoek is 5.5 grade, maar dit sal maar eers moet doen. Ek wil graag die grofste werk aan die teleskoop klaarmaak voor ek die fynste skuurwerk op die spieël doen, want ek moet die montering van die spieël se goed alles klaar hê voordat ek verder kan gaan. Ek het my les geleer, ek is bang vir ‘n krapmerk op ‘n later meer gevorderde stadium.

17 November 2004. Donderdag, die 11 de, het ek die hout vir die raamwerk van die teleskoop gekry. Die supawood wat ek gekoop het is 1,5 by 1,85 meter. Die voetstuk en die wieg sal daaruit kom. Om die sirkels te saag is nie so maklik nie, die lem wat ek gebruik het is te breed en daarom wil dit nie kort draaie vat nie.Nadat ek ‘n smaller lemmetjie ingesit het gaan dit beter. Die onderste draaibord is van ‘n stuk toonbank blad gesny wat ‘n melamien blad het. Dit is 38 mm dik. Die res is 16 mm dik en is ‘n bietjie dunner as wat ek sou wou gehad het. Al die stukke is gesny en geskuur. Alles is met lym en skroewe aanmekaar gesit en weer afgeskuur. Dit is jammer dat ek nie alles met skuur seelaer (Sanding Sealer) kon dig maak nie, die deel wat ek so gemaak het lyk baie goed. Die hele lot is klaar geverf met Landini Ratkas blou (Wat anders!)( Want dis wat ek gehad het). Die ou verkyker wat ek gehad het het ek vandag uitmekaar gehaal en dit lyk tog of ek die een helfte sal kan gebruik.

My enigste vrees is dat die hele ding swaar gaan wees, met alles aanmekaar is dit ‘n groot teleskoop.

18 November 2004. Die skuurdery het goed gegaan, ek het die lelike krapmerk klaar uitgeskuur en is nou besig met die graad 1000. Die 1000 is vreemd, die glas “gryp” en ek het met die eerste stoot gesukkel om die twee weer van mekaar af te kry. Die oplossing is om minder poeier op ‘n keer te gooi. Die hele kas is nou aanmekaar gesit en gereed om gebruik te word. Al wat nog gedoen moet word is om die dwarsspiëel se nes te bou. Verder is die skywe vir die montering van die spliëel klaar gesny en mooi rond gemaak op my staanboor. Ek het die groot staanboor ingespan om die draaiwerk te doen. Dit het goed gewerk. Die diepte van die kromming op die spiëel is nou 1.53 mm, baie naby aan die ideaal van 1.52 mm.

24 November 2004. Ek het die skywe klaar gesny en dit lyk goed. Die skyf wat die spieël gaan dra, het ek met penne gemaak soos wat ek in die boek: “Build your own Telescope”, gesien het. Op die rand waar die spieël moet lê is daar 24 mm besemstok penne ingesit wat die spieël op sy rand sal ondersteun. Verder is daar gate in die agterste ondersteun skyf gemaak om lug deur te laat om die spieël af te koel. Die buis is ook klaar op die onderste punt gelyk gemaak om die deksel te kan vat.

Met die 1000 is ek klaar en ek het met die laaste, 1200, begin!!! Dit is lekker om te weet ek staan einde se kant toe met die skuurdery. Ek kan dit nie glo nie, ek meet vanmiddag en ek sien toe dat die diepte nou presies 1,52 mm!!!
Wel met die skuurdery is dit ook klaar. Die glas lyk baie mooi, eengalig dof en al die merkies is eenders. As mens na die snitvlak op die kant kyk dan is die verskil in tekstuur baie duidelik en kan ‘n mens verstaan dat een kristal wat in die verkeerde graad van skuurpoeier beland so ‘n groot skade kan maak.

Meet die diepte.
Tot nou toe het dit niks niks gereën nie, wel so hier en daar so ‘n buitjie. Die veld skyn groen, maar daar is nie kos vir die diere nie. Ek koop voer en ek moet alles voer. Die regering sal natuurlik ook nie in die tye wit boere bystaan met droogtehulp nie. Wel, ek sal nie my bekommer nie, my hulp kom van die HERE!

25 November 2004. Kan dit nie glo nie! Ek het laatmiddag die spieël klaar geslyp. Verder het ek die wieg vir die spieël ook klaar gemaak. Die hele spulletjie is ook aanmekaar gesit, en hy is swaar!.

30 November 2004. Lekker reen gehad, ons kan nie ons dank genoeg aan die HERE bring nie. So in die tussentyd met die voerdery van die vee en al die bekommernisse van die droogte, het ek die web vir die klein weerkaats spieël ook klaar gekry. Dit was nogal nie so maklik nie. Ek het hom drie keer gemaak voor ek tevrede was. Die klein “Allen” boutjie se gate moes ook draad gesny word en daarvoor moes ek ook die tapsnyer koop. 3mm In nie baie dik nie! Dis dunner as ‘n polonie-skil! Maar dit is klaar en lyk goed! Om die spulletjie mooi eenders te kry was nogal ‘n hele affere.

13 Desember 2004. Ek kry vir my die 3 mm tap snyer om die gaatjies van die spieël-web draad te sny. Dit is maar baie dun en ek moet hom met die battery boor vashou. Wel ek het goed gesukkel om die waster se drie gate mooi 120 grade uitmekaar te kry. Op die end is dit baie goed en die hele web is klaar. Ek het ook by Gawie van Zyl sommer hoepeltjies gekry waarmee die bondels skare vasgemaak word. Die “strapping” wat ek by Vincent gekry het , het ek verwoes deur te dik gate daarin te boor vir die verstelboutjies.

Intussen het ek al die gras wat ek kon stikstof gegooi en die gras groei mooi van die bietjie reen. Ek glo en vertrou dat die reen nie nou sal ophou nie. Dit is vreeslik groen en mooi.

28 Desember 2004. Chris is op verlof. Ons twee het vandag vir Vincent gaan kuier om die poleer skyf te maak. Dit was nogal ‘n ondervinding, eerstens was die hars van ‘n nuwe tipe en het Vincent baie gesukkel om die regte hardheid te kry. Hy moes elke keer die hars weer smelt en nog ‘n bietjie olie (sommer enige enjin olie, of so) in te gooi. Dan gooi hy ‘n bietjie uit op ‘n koue (kamer-temperatuur) harde oppervlak en laat dit stol en afkoel. Die hardheis is reg as ‘n R5 sruk op ‘n hoek van 45 grade sy eie diepte binne dring in 30 – 50 sekondes. Die 4de een was eers reg. Elke keer moes die hars eers weer van die spieël afgehaal word en weer gesmelt word. Die hars word dan op ‘n stukkie bakkie vloermat wat effens groter as die spieël is gegiet. Die Ander stuk glas (TOOL) word dan op die hars vasgedruk tot dit effens afgekoel is. Die stuk rubbermat word versigtig afgehaal en dan word die spieël op die warm hars vasgedruk sodat die mat kant die kromming van die spieël kan aanneem. Eers dan is dit gereed. Daarna word van Seriumoksied poeier in in botteltjie met ‘n tuit gegooi met so ‘n bietjie seep (Sunlight Liqued), meng met ‘n bietjie water. Slegs klein hoeveelhede van die mengsel word op die spieël gedrup om dit glad en beweeglik te kry. Die hars is maar effens taai en dit is nie so glad om te stoot as wat die skuurdery was nie.

Die poleer beweging is net soos die van die slyp, ‘n “W” beweging. Dit word net baie stadiger gedoen, omtrent net 25- 30 stote per minuut.

31 Desember 2004. Ons kan dit nie glo nie, maar binne, ag, minder as 3 uur was ons klaar!!! Dit is vir my ongelooflik, ek kan dit nog nie glo nie, die glaswerk is klaar. Nog net die finale presisie in stelling. Ek het omtrent net 1uur en 15 minute gepoleeer en Chris omtrent dieselfde!

Die nes vir spieël.

1 Januarie 2005. Nuwe jaar! Ons het weer na die spieël gekyk en ek is seker dat dit reg is en ordentlik klaar gepoleer is. Ek sit solank my dinge bymekaar om die soek-teleskoop wat op die rug van die grote kom te maak. Chris het vir my ‘n ou stukkende 10 X 50 verkyker gebring en ek kan dele daarvan gebruik. Dit is lekker om te weet die einde is in sig.

14 Januarie 2005. Het baie lekker reen gehad. Die wêreld is nat en die paaie amper onbegaanbaar. Die werk aan die kraal vorder en net die toemaak van die drade aan die agterkant teen die bome moet nog klaar.
Ek werk die hele dag aan die soek-teleskoop wat op die rug van die groot teleskoop moet kom. Die hele ding word van stukkies PVC pyp gemaak, die eerste poging was nie suksesvol nie. Om die kruishare te maak gebruik ek ‘n skerp dun spykertjie wat ek is Pattex doop en dan oor die oogstuk se fokuspunt trek. Lyk nie te vrot nie.

Die poleerstuk.

15 Januarie 2005. Vincent, Ettienne, Barend en die “Chinaman”, Keith, kom vroegdag hier aan. Hulle het dit oor die baie nat pad reggekry om hier te kom. Hulle kom om te kuier, maar, ook om my te help om die spieël se finale instelling te doen. Keith is die expert Faukolt toetser. Nadat hy ‘n paar swaar woorde in digte Afrikaans gelos het sê hy dat Vincent ook moet kom kyk. Volgens hulle albei is die spieël
reg!!@#$@! Hy is goed genoeg om net ge-aluminiseer te word. Ek kan dit nie glo nie, Keith het baie gepraat van sy broerskind wat so gou dit reggekry het en nie kan verstaan waarom daar so ‘n bohaai gemaak word oor die polering en parabolisering van die spieël nie! Wel ek kan niks sê nie want ek weet net ek kan nie self dit so goed gedoen het nie, daar was ‘n HAND wat myne gehelp stoot het aan die poleerkop.

Monteerstuk vir spieël

16 Januarie 2005. Nadat Keith my poging gesien het vir ‘n soek-teleskoop, sê hy dat dit regtig nie goed is nie, en dat ek by hom ‘n ander een kan kry wat hy self gemaak het. (Keith maak professionele fokusers, Myne kom van hom af.) Verder moet ek klein veranderinge maak aan die lens se anker. Maar dit is niks, vir dit sien ek alles kans, want my groot werk is klaar.

Vincent sê dat Chris die lens getoets het en dat daar nog ‘n bietjie werk is om te doen. Hulle sal dit vir my doen en ek hoef nie weer te gaan nie.

22 Januarie 2005. Die week het ek die verfwerk gedoen, maar, dit is nie lekker nie. Die Universal onderlaag kan net met ‘n kwas aangesit word en dit kan nie op die buis so grof wees nie. Ek het toe dofswart skryfbord verf gebruik van terpentyn basis en daarmee geverf. Die boonste laag is akrliliese verf en waterbasis. Dit krap maklik. As alles mooi is sal ek hom met deurskynende vernis oorspuit. Nog iets wat ek wil maak is drie wieletjies waarop die draaibord sal draai, die teflon is nie geskik vir die swaar gewig van die teleskoop nie.

1 Februarie 2005. Verf die buis van die teleskoop, maar e krap hom sleg en sal die verf weer moet afhaal en alles oordoen. Die kompressor is gedaan en sukkel om die tenk vol lug te ry. Ek verf net een streep dan is die lug op en wag ek 20 minute voor daar weer genoeg lug is. Verder is dit nie maklik om die plastiek te verf nie. Het ook wielietjies van bol laers gemaak vir die draaibord van die teleskoop. Nou draai hy maklik.

Keith het ook voorgestel dat ek eerder die staalskyf vir die montering van die spieël moet gebruik om die gewig reg te kry.

26 Februarie 2005. Het ‘n ander kompressor by Gawie van Zyl gekry en die kompressor gemonteer. Dit werk goed. Het ook die hele teleskoop vir Bertie van Rensburg gevat om te verf. Ek het net te veel tyd aan verwery gemors. Het intussen ‘n baie nat najaar en het baie gesukkel om die groenvoer lande voor te berei en ook om voer te maak vir die winter. Maaar…, dis nou klaar en daar is ook nie meer baie vir my om aan die telesoop te doen nie.

5 Maart 2005. In die tussentyd het ek van brons die knippe vir die deksels op die buis gemaak. Die verf op die buis lyk baie goed.

19 Maart 2005. Die ooie het klaar gelam, wel…, amper klaar. Werk aan die montering van die soek teleskoop. Maak dit van ‘n brons bus van ‘n ou trekker. Dit lyk goed. Die deksels en die bronswerk het e alles baie glad geskuur en toe met “Brasso” opgevryf tot dit blink, daarna het ek dit met helder vernis gespuit dat dit nie verdof nie.

4 April 2005. So tussen die werk deur het ek die buis se twee deksels en die spieël se montering op hulle plekke ingesit. Dit lyk baie mooi, maar dit is baie swaar. Ek wens so dat die teleskoop se spieël ook al hier was.

9 April 2005. Wonderlike oggend gewees. Keith het my gebel en gesê dat die spieël klaar is en baie goed gekom het. Ons spreek af dat ek op Vrydag 16 April 2005 na Vincent sal gaan en dit daar gaan kry. Ek sal alles saamvat en dit by hom gaan installeer.
Saterdag 17 April sal dit die jaarlikse Scopex uitstalling wees. Hulle wil hê dat ek myne ook daar sal gaan uitstal.
Ek het ‘n groot dankbaarheid in my hart dat die HERE dit vir my moontlik gemaak het dat ek so-iets kon maak. Dat daar soveel mooi mense is wat omgee en help.

19 April 2005. Die Scopex naweek is verby. Dit was lekker, al het dit Saterdag gereën. Ek het ook ‘n prys gewen!!, Die eerste ou wat ‘n teleskoop met korrespondensie gebou het!?. In elk geval, ek is baie bly. Ek het ook vir my ‘n paar oogstukke gekoop. Vanmiddag die teleskoop ge-“Colomise”. Ek is nog nie heeltemal tevrede nie, maar ek kon met die 32 mm die bande om Jupiter baie duidelik sien, maar as ek die 2X Barlow gebruik, gaan hy effens uit fokus. Miskien is dit omdat daar yl wolke in die lug is. Die maan is verstommend! Ek is seker ek kan meerkat-gate sien!(Grappie).

24 April 2005. Ek sal graag met iemand wil praat om die teleskoop in te stel. Al die  inligting wat ek van die Internet kon aflaai verwys net eenkeer na die onderwerp. Dit is nie baie duidelik nie, maar ek sal weer dink, dalk kry ek ‘n plan. Dit wat ek wel kan sien, is baie goed. Die bekende newel in Orion is ook duidelik sigbaar, maar teen 300X is die fokus uit.

Nabetragting: Dit het byna twee jaar geneem om die teleskoop te bou. In die tyd het ek verskeie nuwe vriende gemaak. Sommige het ek eers op die Scopex 2005 vir die eerste keer gesien.

Van die dinge wat ek graag anders sal wou gehad het is:
‘n Ligter teleskoop.klasse kon bygewoon het.wou leer van die “Figuring”wou weet van “Columnising”.mense wou ontmoet wat ook teleskope gebou het.meer wou leer van sterrekunde.beter tegnieke wou leer om met die teleskoop te werk.

Bedankings:
Die ASSA van Johannesburg.
Vincent Netman vir sy geduld en raad.
Keith Lou vir sy bemoediging
Chris Stewart omdat hy kans gesien het om Vincent met die finale konfigurering van die spieël te help.
Barend, Ettienne, en Karen vir julle inspirerende besoek op die plaas verlede jaar (Mei 2004).

Back to content | Back to main menu